NWU Ingenieurswese-skooltutorprojek

Die lewe kan moeilik raak vir Graad 11- en 12-leerders wat uitdagende vakke soos wiskunde in hul finale jare op hoërskool moet bemeester. Dit raak selfs erger met ʼn koronaviruspandemie en die gevolglike inperking.

Aangesien wiskunde noodsaaklik is vir ʼn loopbaan in ingenieurswese het die NWU se Fakulteit Ingenieurswese betrokke geraak by ʼn inisiatief om leerders deur middel van aanlyn tutoriale te help.

Die Fakulteit het kragte saamgesnoer met die Govan Mbeki-wiskundeontwikkelingsentrum (GMWOS)* om leerders te help om onontbeerlike wiskundevaardighede en -konsepte te bemeester wat die grondslag sal vorm vir verdere universiteitstudies.

Sluit by ons aan op 13 Julie 2020, vir ons Virtuele Ingenieursweek, om meer oor hierdie program te wete te kom.

Aanlyn tutoriale

Om te registreer vir die aanlyn tutoriaalprogram, vul asseblief hierdie vorms in. Leerders het slegs tot 17 Julie tyd om aansoek te doen vir die program:

Die aanlyn tutoriale word aangebied deur ʼn span toegewyde nagraadse meestersgraadstudente. Hulle is chemiese ingenieurswese-studente Winroe Meyer, Cara Prinsloo en Caitlin van der Merwe en meganiese ingenieurswese-studente Johan de Beer en Berno Laubscher.

Die tutoriale vind plaas op die Zoom aanlyn platform wat ʼn veilige ruimte vir leerders bied om vrae te vra, wiskunde te doen en hulp te ontvang van die tutors.

Al die tutors is opgelei deur die GMWOS. Hulle gebruik die studiemateriaal van die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Kurrikulum en Assesseringsbeleidstelling-kurrikulum (CAPS-kurrikulum). Die CAPS-kurrikulum gee aan onderwysers gedetailleerde riglyne oor wat om te onderrig en te assesseer op ʼn graad-vir-graad- en vak-vir-vak-basis om konsekwentheid en gehalte te verseker.

Die klasse word in Engels sowel as Afrikaans aangebied. Leerders gebruik skootrekenaars, tafelrekenaars en slimfone om te konnekteer deur die internet en om toegang te verkry tot tutoriale en leermateriaal.

 

MobiTutorZaApp en gids bevorder selfleer

Leerders kan ook toegang kry tot addisionele hulpbronne soos die TouchTutor® selfleergids en die MobiTutorZa App op die tutoriaalplatform.

Deur die TouchTutor® selfleergids ontdek leerders hoe maklik en doeltreffend selfleer kan wees. Die gids help hulle om hul studiepogings te fokus, boek te hou van hulle uitslae, hul vordering uit te stip en te besin oor hul suksesse en uitdagings soos wat hulle deur die onderskeie onderwerpe werk.

Die gids bestaan uit verwysingsmateriaal, belangrike terme en definisies, oefeninge, en ʼn aanteken-en-besin-bladsy vir elke onderwerp.

MobiTutorZa is ʼn Android-toepassing wat beskikbaar is in die Playstore. Dit is CAPS-kurrikulumverwant en leerders kan selftoetse doen en uitslae ontvang met terugvoer. Dit bied ook taalondersteuning in agt inheemse tale. Die Toepassing kan gebruik word om wiskunde- en wetenskapvermoëns te verbeter en leerders kan registreer vir maandelikse uitdagings.

“Ons hoop om ons voornemende studente, veral matrieks en graad 11's, van aanlyn tutoriale te kan voorsien,” aldus prof Liezl van Dyk, uitvoerende dekaan van die Fakulteit. “Ons primêre doelwit is nie om die skoolstelsel te vervang nie, maar om toekomstige ingenieurs te help om hierdie baie belangrike vak te verstaan en te geniet.”

Prof Van Dyk sê dat alhoewel die NWU se aanvanklike ooreenkoms met GMWOS om die aanlyn tutoriale aan te bied in Julie verstryk, die Universiteit die volgende fase van hierdie projek betree, wat verleng sal word tot die einde van die akademiese skooljaar.

Kliek hier om meer te wete te kom oor die werk van die Govan Mbeki-wiskundeontwikkelingsentrum, besoek gerus.


SAFM radio-onderhoud