Chemiese ingenieurs kan met oplossings vorendag kom vir baie van die groot uitdagings waarvoor die wêreld vandag te staan kom, soos klimaatsverandering, energietekort-, omgewings- en waterkwessies. Die Chemiese Ingenieurswese-vakgebied behels die ontwikkeling, ontwerp, en bestuur van industriële prosesse waar grondstowwe omskep word in produkte met ʼn hoër ekonomiese waarde. Die behandeling van afvalwater, die omsetting van steenkool in petrol, die opwekking van elektrisiteit uit alge, en die maak van graanvlokkies uit mielies en bier uit graan is slegs enkele van die prosesse wat chemiese ingenieurs kan ontwerp en bestuur.