Chemiese ingenieurs kan met oplossings vorendag kom vir baie van die groot uitdagings waarvoor die wêreld vandag te staan kom, soos klimaatsverandering, energietekort-, omgewings- en waterkwessies. Die Chemiese Ingenieurswese-vakgebied behels die ontwikkeling, ontwerp, en bestuur van industriële prosesse waar grondstowwe omskep word in produkte met ʼn hoër ekonomiese waarde. Die behandeling van afvalwater, die omsetting van steenkool in petrol, die opwekking van elektrisiteit uit alge, en die maak van graanvlokkies uit mielies en bier uit graan is slegs enkele van die prosesse wat chemiese ingenieurs kan ontwerp en bestuur.

Chemiese ingenieurswese met Mineraalingenieurswese

Mineraalverwerking is ʼn gespesialiseerde vakgebied in chemiese ingenieurswese en handel oor die fisiese en chemiese prosesse wat gebruik word om metale uit erts te onttrek. Die steenkool, platinum, goud en diamante wat uitgevoer word deur Suid-Afrika kan behandel word deur chemiese ingenieurs wat spesialiseer in mineraalverwerking.

Beroepsliggame:

ECSA – Ingenieursraad van Suid-Afrika

Loopbaangeleenthede:

Jou opsies as ʼn chemiese en mineraalingenieur in Suid-Afrika en in die buiteland is industrieë soos:

  • energieopwekking
  • voedselverwerking
  • brouerye
  • behandeling van afvalwater
  • besoedelingsbeheer
  • outomobielvervaardiging
  • sintetiese brandstofvervaardiging
  • mineraalverwerking
  • Ontwikkeling van nanomateriaal vir materiaalwetenskaptoepassings