Xcel-program
Die Xcel-program is ’n oorbruggingsprogram wat studente vir ingenieurstudies voorberei. Dit bied aan talentvolle studente wat nie aanvanklik aan die toelatingsvereistes voldoen het nie, ’n tweede kans om hul Wiskunde- en Fisiese Wetenskappunte te verbeter en ’n sterk grondslag vir toekomstige ingenieurstudies te bou.
Wat is die Xcel-program?
Die program bestaan uit twee hoofgedeeltes:
Wiskunde en Fisiese Wetenskappe
- Die Xcel-program bied klein klasse met slegs 25 beskikbare plekke, wat die keuringsproses baie mededingend maak.
- Studente kry die geleentheid om nuwe SBA-punte op te bou. Die SBA vorm deel van die portefeulje wat tot die finale matriekeindeksamen bydra.
- Studente herhaal die Graad 11- en Graad 12-kurrikulum, en soms ook Graad 10-inhoud.
- Studente woon weekliks 10 ure Wiskunde- en 10 ure Fisiese Wetenskapklasse by, asook 2 ure tutoriaalklasse per vak. Klasbywoning is verpligtend.
- Studente herskryf die NSS-eksamens in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe onder toesig van die Departement van Basiese Onderwys by Hoërskool Ferdinand Postma.
Universiteitsaanbiedings
ALDE111 en ALDE121
Xcel-studente registreer vir ALDE111 en ALDE121, wat fokus op taal-, lees- en skryfvaardighede. As geregistreerde NWU-studente leer hulle om verantwoordelikheid vir hul eie studies te neem en suksesvol in ’n universiteitsomgewing te funksioneer.
Studente moet ALDE111 in die eerste semester slaag om met ALDE121 in die tweede semester voort te gaan. Studente wat nie ALDE111 slaag nie, sal ongelukkig die Xcel-program voor die aanvang van die tweede semester moet staak.
Computer Aided Design en Programmering
Studente neem ook twee vaardigheidsvakke wat hulle vir formele ingenieurstudies voorberei. Hulle vervaardig 3D-afdrukke van hul ontwerpe en bied dit tydens ’n mondelinge assessering aan ’n paneel ingenieurs voor. Hierdie ervaring berei hulle voor vir die finalejaar-ingenieursprojek wat nasionaal deur ’n ingenieurspaneel beoordeel word.
Ondersteuning en Verblyf
Gedurende die Xcel-jaar ontwikkel studente goeie studiegewoontes, effektiewe studiemetodes en tydsbestuursvaardighede. Individuele akademiese en sielkundige ondersteuning is beskikbaar waar nodig.
Universiteitskoshuisverblyf word nie aanbeveel nie, aangesien koshuisaktiwiteite dikwels met die verpligte klasse van die Xcel-program bots. Verblyf is op die perseel van Hoërskool Ferdinand Postma beskikbaar. Die skool bied ’n keuse van woonstelle sowel as ’n studentehuis vir mansstudente, wat gerieflike en praktiese verblyfopsies bied.
Aansoeke en Navrae
Kontak gerus vir Mev. Mariëtte Geldenhuys by ferdiesxcel@gmail.com of skakel 018 290 5539 om die aansoekvorm vir die Xcel-program te verkry.
Die aansoekvorm kan ook hier afgelaai word: Laai die Xcel-aansoekvorm af
Die Impak van ’n Tweede Kans
’n Tweede kans om beter matriekuitslae te behaal kan die sleutel wees tot ’n suksesvolle loopbaan in ingenieurswese. Deur die Xcel-program bied die Noordwes-Universiteit, in vennootskap met Hoërskool Ferdinand Postma, aan talentvolle matrikulante die geleentheid om hul droom van ’n loopbaan in ingenieurswese na te streef.
Om meer te lees oor die positiewe impak wat die Xcel-program reeds gemaak het, besoek: Xcel open geslote deure na ingenieurswese
