Die Bio-energie-navorsingsgroep wat in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit geleë is, is aktief op die gebied van tweede- en derdegenerasie-navorsing in bioraffinering, wat biochemiese sowel as termochemiese produksieroetes dek. Die groep bestaan uit ’n unieke samestelling van mikrobioloë, chemiese ingenieurs, biochemici en chemici, wat die benutting van ’n uiteenlopende stel vaardighede en kennis in die toepassing van die navorsing moontlik maak.

Hoewel bioraffinaderye tans ’n gewilde onderwerp regoor die wêreld is, is ons groep die enigste een waarvan ons weet wat al die aspekte van bioraffinaderyprodukte dek, insluitende biobrandstof, biochemiese produkte en bioplastiek. Aangesien die navorsingsgebiede van die groep die biochemiese sowel as die termochemiese produksieroetes dek, kan ons ’n unieke samestelling van produkte en prosesse lewer wat nie dikwels by die meeste navorsingsgroepe aangetref word nie. Dit maak ons groep in die besonder geskik om probleme in die biomassa-tot-energie-veld op te los.

Die Bio-energie-navorsingsgroep het veral wye ervaring in termochemiese vervloeiing om biosteenkool as hoëkwaliteit-steenkoolplaasvervanger en ’n grondremediëringsagens te produseer, asook om hidrobehandeling van laewaarde-olies tot hoëwaarde-brandstowwe soos biogebaseerde stralerbrandstof en hoëwaarde biochemiese stowwe te lewer.

Hulle is tans een van slegs twee groepe in Suid-Afrika wat op die gebied van termochemiese vervloeiing werk, en die enigste groep in Suid-Afrika wat op die gebied van hidrobehandeling van olie/biomassa vir hoëwaarde-brandstofproduksie werk.

Die groep het ’n baie moderne ontledingskapasiteit en die vermoë om ontledings en karakterisering van biobrandstof en biochemiese stowwe te doen. Hulle het ook reeds ’n aantal gemeenskapsprojekte voltooi, insluitende ’n aantal bewustheidswerkswinkels oor hernubare energie by ’n skool in die plaaslike township.

Die groep werk aktief saam met bedryfsvennote wat die ontwikkelde navorsing ten opsigte van laer produksiekoste, verhoogde inkomste en verlaging van oorkoepelende emissies en afvalwater vanaf die produksie-aanlegte sal implementeer. Van die groep se navorsing oor ultrasoniese bestraling word in industriële papiermeulens geïmplementeer.

Kontakbesonderhede:

Rig navra aan:

Prof Frans Waanders by frans.waanders@nwu.ac.za