Visie

Die visie van die Sentrum van Uitnemendheid in Koolstofgebaseerde Brandstowwe is om die leiers te wees in die ontwikkeling van koolstofgebaseerde brandstowwe vir die verbetering van energiedoeltreffendheid, bedryfsbetroubaarheid en -beskikbaarheid, asook om die koolstofvoetspoor te beperk deur die impak van vrystellings in Suid-Afrikaanse energieverskaffing oor die algemeen te verlaag.

Missie

Die missie van die Sentrum van Uitnemendheid in Koolstofgebaseerde Brandstowwe is om navorsing te doen en wetenskaplikes en ingenieurs in die energiesektor op te lei, nuwe kennis te ontwikkel en die voordele wat Suid-Afrika reeds in die energiesektor het, te versterk.

Struktuur

Die Sentrum van Uitnemendheid in Koolstofgebaseerde Brandstowwe wil ’n navorsingsentiteit wees met ’n duidelike fokus op die energiegebied wat aan nasionale en ook internasionale prioriteite gekoppel word.

Die navorsing sal gerig wees op die voorbereiding, voorafbehandeling en produksie van steenkool en biomassagebaseerde vloeistowwe, vaste en gas-brandstowwe, asook die veredeling van verwante produkte en die vermindering van die impak van die gebruik van steenkool en biomassa as energiebron, sonder om die omgewing buite rekening te laat. Dit is dus ’n wieg-tot-graf-benadering om die optimale gebruik van brandstowwe te verseker om energie te verkry, met die bewaring van die omgewing in gedagte.

Die sentrum sal die huidige drie gevestigde navorsingsleerstoele huisves, naamlik (1) die SANLI-navorsingsleerstoel in Steenkoolnavorsing, (2) die ESKOM EPPEI-spesialis sentrum inVrystellingsbeheer, en (3) die SANLI-navorsingsleerstoel in Biobrandstowwe en ander skoon alternatiewe brandstowwe. Dit sal sy voetspoor in omgewingsaspekte en ondergrondse steenkoolvergassing vergroot. Daar is reeds goeie navorsingsamewerking tussen die drie fokusgroepe wat die stigtingsgedeelte van die sentrum van uitnemendheid sal vorm en die sterk punte van hierdie groepe in ’n gesamentlike visie en strategiese plan sal saamvat.

Die hoofprioriteite van Suid-Afrika is die verligting van armoede, die hantering van ongelykheid en die bestryding van werkloosheid. Die strategie van die DHN en die DWT het ten doel om navorsingsaktiwiteite te ondersteun wat Suid-Afrika se mededingendheid in die internasionale mark sal vergroot en ’n kritieke massa wetenskaplikes en ingenieurs sal skep wat nuwe tegnologieë en innoverings kan ondersteun wat oor ’n wye spektrum vaardighede tot nuwe werksgeleenthede kan lei. Die navorsingsfokus van die beoogde sentrum van uitnemendheid pas baie goed in ten opsigte van die opleiding van wetenskaplikes en ingenieurs in die energiesektor, die ontwikkeling van nuwe kennis, en die versterking van die voordele wat Suid-Afrika reeds in die energiesektor het. 

Tegnologie-oordrag van universiteite na handelsentiteite en die bedryf is een van die vernaamste struikelblokke vir die implementering van nuwe prosesse en tegnologieë in die energie- en vervoersektor. Demonstrasie-aanlegte en/of werkende prototipes wat demonstreer hoe nuwe tegnologieë by die bestaande bedryf geïnkorporeer kan word, kan grootliks in hierdie verband help, wat een van die oogmerke van die sentrum is. Die bemarking van nuwe tegnologieë deur demonstrasie-aanlegte, prototipes met bedryfsvennootskappe, of newemaatskappye, is een manier om te verseker dat navorsing vir die behoeftes van die bedryf relevant bly. Dit verseker ook dat nuwe tegnologiese ontwikkelings kommersieel geïmplementeer word om die plaaslike en nasionale gemeenskappe positief te beïnvloed. ’n Sterk energienavorsingsgroep met sterk navorsingsuitsette van ’n hoë gehalte sal die NWU se teenwoordigheid en reputasie in die energie- en brandstofsektor versterk. Dit sal die NWU ook in ’n beter posisie plaas om ’n energieplatform op die kampus te skep.

Die drie navorsingleerstoele wat in die Sentrum van Uitnemendheid vir Koolstofgebaseerde Brandstowwe bedryf word, sal dus nie net die bevoegdheid hê om ’n bydrae oor die bevordering van energiedoeltreffendheid te lewer nie, maar ook die kundigheid om die omgewingsvoetspoor te hanteer wat met die gebruik van fossielbrandstof verband hou. Die stoel oor biobrandstof dra veral tot hernubare energie by en bevorder dus die “groen” aspekte van koolstofgebaseerde brandstowwe.

The entiteit se lys van programme sluit in:

  • Die verwerking van fynsteenkool
  • Die optimalisering van steenkoolomskakelingsprosesse
  • Die benutting van steenkoolreste
  • Die monitering en impak van vrystellings
  • Tegnologieë vir vrystellingsbeheer
  • Die optimalisering van biomassa-omskakelingsprosesse
  • Reste tot vloeibare brandstowwe
  • Energie- en kragtegnologie
  • Laekoolstofbrandstof-tegnologie
  • Groenekonomie-produkte
  • Prosesse en waterbestuur

Vir navrae, kontak: