Die SANLI-navorsingsleerstoel, wat in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit geleë is, is ontwerp in ooreenstemming met ’n projekportefeuljeraamwerk vir waardetoevoeging van die wieg tot aan die graf. Die fokus is op die verwerking van fynsteenkool, die optimale benutting van steenkool, en die benutting van reste. Talle nuwe studies word regdeur die program ingesluit met die doel om nuwe moontlikhede vir die benutting van steenkool te ondersoek. Steenkoolspesifieke velde, soos die grondbeginsels van die ontwatering van fynsteenkool, die breking van steenkool, die maak van brikette/deurpers van steenkoolstafies vir brandstof, die vorming en vernietiging van teer, molekuulmodellering, katalitiese gasvorming, pirolise-studies, reaksiekinetika, spoorelementgedrag, laerookbrandstowwe, die sintese van kooks, en die kogenerasie van steenkool word ondersoek.

Oor die afgelope dekade het die SANLI-steenkoolnavorsingsentiteit gegroei van net ’n paar navorsers met minder as vyf studente na ’n groep van tien voltydse personeellede (met sewe NNS-gegradeerde navorsers) en meer as 30 nagraadse studente, en met ’n tienvoudige toename in die begroting (NNS en die bedryf). Die groep se portefeulje fokus sterk op tegnologie, met ’n goeie balans van fundamentele en toegepaste navorsing. Hulle werk hard daaraan om waarde by bestaande bedryfsprosesse te voeg, maar verskaf ook geleenthede om met behulp van katalitiese prosesse hoogs innoverende nuwe tegnologieë te ontwikkel wat ook wêreldwyd toegepas kan word.

Die SANLI-leerstoel in steenkoolnavorsing het ’n totaal van 56 eweknie-beoordeelde vaktydskrifartikels (2013-2016) met ’n gemiddelde tydskrifimpakfaktor van 2,73 gepubliseer, en meer as 100 referate by konferensies aangebied, plaaslik sowel as internasionaal. Hierdie leerstoel het ook 34 nagraadse studente gelewer sedert die stoel se ontstaan in 2013 – 26 meestersgraad- en agt PhD-studente het hulle grade ontvang. ’n Totaal van 95 BIng-finalejaarstudente met navorsingsprojekte het ook gegradueer (2013–2016). Talle toekennings is al ontvang deur studente sowel as personeel wat in die SANLI-leerstoelprogram vir steenkoolnavorsing werk. Ná eweknie-beoordeling het die NNS onlangs ’n tweede navorsingstermyn van vyf jaar (2018–2022) aan die leerstoel toegeken.

Die SANLI-leerstoel in steenkoolnavorsing streef daarna om op die gebied van die verskaffing van energie, brandstof en chemikalieë uit steenkool ’n bydrae tot die ekonomie en welstand van alle mense in Suid-Afrika te maak. Dit word gedoen deur innoverende alternatiewe of verbeterde prosesse met die gebruik van beskikbare steenkoolreserwes te ontwikkel, terwyl ’n skoon omgewing in stand gehou word. Die vernaamste uitdagings vir industriële steenkoolbenutting sluit tans kapitaalkostevermindering, toename in doeltreffendheid, aanpassing by laegraadse grondstowwe, en omgewingsversagting in. Vir hierdie doel word daar binne die SANLI-leerstoel se navorsingsprogram ’n saak vir die verbinding van die energie-, chemiese en herwinningsektore ten opsigte van ’n geslote koolstofsiklus ondersoek.

Groen Steenkoolnavorsing

Kontakbesonderhede:

Vir meer inligting oor die navorsingsprojekte en uitsette, kontak prof John Bunt: Gebou N1, kamer 141, Potchefstroom.

E-pos: John.Bunt@nwu.ac.za