Wat is die Xcel-program?

Die Xcel is `n brugprogram ter voorbereiding vir ingenieurswese studies.

Die program bestaan uit twee dele

  1. Wiskunde en Fisiese Wetenskap (Basiese Onderwys)

    1. Die studente word in klein klasse hanteer. Daar is net 20 plekke beskikbaar. Die keuring vir die Xcel-program is dus streng
    2. Hulle het die geleentheid om nuwe SBA-punte op te bou (School Based Assessment portfolio). Die SBA is 'n portefeulje van bewyse wat bydra tot die finale assessering in die matriekeindeksamen.
    3. Hulle herhaal die graad 11 en 12 kurrikulum (soms word graad 10-inhoude ook herhaal). Daar is 10 ure Wiskunde- en 10 ure Fisiese Wetenskapklas per week met, bykomend, ook 2 ure tutoriaalklasse per vak per week. Dit is verpligtend om alle klasse by te woon.
    4. Die studente skryf weer die NSS-eksamen in Wiskunde en Fisiese Wetenskap. Dit word geskryf onder toesig van die Departement van Basiese Onderwys by `n naburige hoërskool. Alle klasse word op die NWU kampus aangebied.
  2. Universiteitsaanbiedings (Hoër Onderwys)

ALDE111 en ALDE121 (Academic Literacy Development)

Die Xcel-studente registreer vir `n enkele universiteitsvak (ALDE111 en 121: taal-, lees- en skryfvaardighede) en is dus NWU-studente. Dit is belangrik om te leer om eie verantwoordelikheid vir `n vak te neem en deel te wees van groot klasse. Hulle moet ALDE111 in die eerste semester slaag om met ALDE121 in die tweede semester te kan voortgaan. Studente wat dus ALDE111 druip, sal ongelukkig die Xcel-program voor die aanvang van die tweede semester moet staak.

CAD (Computer Aided Design) en Programmering

Hulle neem ook twee vaardigheidvakke wat hulle voorberei vir die ingenieursprogramme. Die studente 3D-druk en demonstreer die ontwerpe voor `n paneel van ingenieurs, wat hulle ook eksamineer. Dit is ter voorbereiding vir hulle finale jaar ingenieursprojek wat nasionaal deur `n paneel van ingenieurs beoordeel sal word.

Gedurende die Xcel-jaar leer die studente die regte studiemetodes, studiegewoontes en tydsbeplanning. Hulle kan indiwiduele akademiese en sielkundige ondersteuning kry indien nodig.

Ons beveel nie koshuisinwoning aan nie. Die koshuisbedrywighede bots gewoonlik met die verpligte klasse in die Xcel-program.

Kontak gerus vir Sonette Becker op 018 299 1318 om die aansoekvorm vir die Xcel-program te kry of laai die aansoekvorm af. Sien ook ons brosjure.

 

Die impak van ʼn tweede kans